Gamkaberg se luiperds nie weggeneem

Published: 28 January 2008

DAAR word ook nou ’n groot poging aangewend om die geheimenisse van die luiperds van die Gamkaskloof (Die Hel) te ontrafel.

“Ons is besig om kameras in CapeNature se Gamkaskloof- en Gamkaberg-reservaat te installeer om meer van die luiperds hier te wete te kom,” het me. Leigh Potter van die Cape Leopard Trust gesê.

Dié projek, wat in 2003 deur Quintin Martins in die Cederberge begin is, is verlede Oktober uitgebrei na die Gamkaskloof en Gamkaberg, wat deel vorm van die Gourits-megapark. Martins is die projekbestuurder en Potter die assistent-projekbestuurder wat in die twee reservate woon en werk.

Die vermoede dat die plaaslike luiperds ’n subspesie of ’n afsonderlike bestuurseenheid is, word gebaseer op die feit dat die roofdiere wat hier voorkom aansienlik kleiner is as dié wat byvoorbeeld in die Kruger-wildtuin voorkom, het Martins verduidelik.

Image
Quintin Martins met een van die luiperds wat hy met GPS-kraagtegnologie vir sy navorsing in die Cederberge gebruik het. Foto: CAPENATURE
 

“Luiperdmannetjies in die Kruger-wildtuin weeg gemiddeld 60 kg, maar kan tot 90 kg weeg. Die grootste een wat tot dusver in die Wes-Kaap gekry is, het net 48 kg geweeg. Die gemiddelde massa vir mannetjies is 34 kg. Die wyfies hier weeg gemiddeld tussen 18 kg en 23 kg.”

Werk op die DNS van luiperds in die Wes-Kaap wat vir ’n meestersgraad gedoen is, dui daarop dat die luiperds aansienlike genetiese verskille toon van luiperds elders in Suider-Afrika.

“Een van die doelwitte van die luiperdprojek is om die genetiese status van luiperds in die Wes-Kaap te verifieer,” het Martins gesê. “Die hoofdoel van die projek hier (in Gamka) is egter om vas te stel hoeveel luiperds in die gebiede voorkom.”

Ten einde vas te stel hoeveel luiperds in die gebiede in die Klein-Karoo voorkom, is digitale en gewone infrarooi kameras sedert Oktober in dié twee reservate geïnstalleer. Kameras word gebruik vir navorsing op luiperds, want die diere is baie ontwykend en moeilik om op te spoor en na te vors.

Infrarooi sensors, wat sensitief vir hitte en beweging is, is op die skouerhoogte van ’n luiperd gestel. Die kameras word opgestel op roetes waar luiperdmis en of -spore luiperd-aktiwiteit aandui, soos in rivierbeddings en klowe. Volgens Potter gebruik die mannetjies dieselfde paadjie oor en oor, wat dit makliker maak om hulle met kameras af te neem.

Die kameras word sowat vier tot sewe meter uitmekaar opgestel. Parfuum van enige aard word op ’n droë stokkie aangewend. Dit prikkel die luiperds – en ander diere – se nuuskierigheid sodat hulle stop en daaraan snuif.

“ ’n Luiperdmannetjie se loopgebied kan tot sowat 1 000 km² wees,” het Martins gesê. Die loopgebied word volgens Martins deur middel van GPS-kraagtegnologie bepaal, maar dié tegnologie word nog nie in die twee reservate hier gebruik nie.

“ ’n Mens kan die mannetjies se spoor volg, maar ons kom die wyfies gewoonlik per geluk teë,” het Potter gesê.

Die wyfies benut die habitat anders as die mannetjies en maak nie op dieselfde wyse van paadjies gebruik nie. Hulle merk egter ook hul gebiede met mis, uriene, krapmerke teen bome en op die grond, en deur geluide te maak, het Martins verduidelik.

Die diere is alleenlopend en kom net saam voor wanneer hulle paar. Die kleintjies word op ses tot sewe maande gespeen. Hulle bly by die ma totdat hulle 12 tot 18 maande oud is. “Ons het nog net twee wyfies in die Cederberge van halsbande voorsien,” het Martins gesê.

Een van die vier kameras in die Gamkaskloof is opgestel naby ’n plek waar ’n wyfie twee keer – een keer met ’n haas in haar bek – gesien is. “Ons vermoed sy het kleintjies êrens,” het Potter gesê. Benewens die wyfie is hier vermoedelik twee mannetjies.

Met behulp van hul velpatrone kan individuele luiperds geïdentifiseer word.

Die kameras wys ook watter prooidiere, en die aantal van hulle, wat hier voorkom.

Hierdie inligting wat met die kameras verkry word, word gekontroleer deur ’n ontleding van die inhoud van die mis en ’n DNS-ontleding.

By Gamkaberg is tans tien kameras opgestel. Potter, wat daar woon vir die duur van die projek, sê bewyse van twee luiperdmannetjies is in dié reservaat gevind sedert sy in Oktober daar begin werk het.

Die aantal luiperds wat gevang word, moet voldoende wees om van wetenskaplike waarde te wees. Ten minste ses mannetjies en ses wyfies moet in ’n spesifieke gebied gevang word om die nodige verifieerbare statistieke te verskaf. Die diere word gevang en op dieselfde plek vrygelaat.

“Onder geen omstandighede sal luiperds uit die gebied weggeneem word nie, omdat dit hul sosiale struktuur vernietig, wat net so erg kan wees soos om hulle te skiet, veral as dit volwasse diere is,” het Martins gesê.

Die Burger

The Cape Leopard Trust Trapping Techniques

icon no trap Short overview of three trapping methods considered by the Cape Leopard Trust as safe and humane

Read more

spacer

spacer