Warning

JUser: :_load: Unable to load user with ID: 62

Slagyster eis Sederberg-luiperd

Published: 27 March 2007

KAAPSTAD. – Een van die luiperds wat vroeër in die Sederberge met ’n satellietsender vir navorsingsdoeleindes toegerus is, is in ’n slagyster op ’n plaas naby Clanwilliam gevang.

Dié luiperdmannetjie, genaamd Colin, het gevrek, ondanks hulp van dr. André van der Merwe, ’n plaaslike veearts.

Colin, wat in November deur bewaringslui gevang en met ’n senderhalsband toegerus is, was vermoedelik sewe of agt jaar oud.

Dié voorval het Sondag plaasgevind – ’n dag nadat private grondeienaars in die Sederberg-bewaringsgebied onderneem het om voortaan die gebruik van slagysters in dié wildernisgebied te verbied.

Dié ooreenkoms, wat in samewerking met die Cape Leopard Trust en CapeNature gesluit is, is sover bekend die eerste in sy soort landwyd.

Die betrokke boer op wie se plaas dié voorval plaasgevind het, het onlangs veeverliese weens rondloperhonde ondervind en het glo slagysters gestel om van dié “probleemdiere” ontslae te raak. Dít blyk uit ’n verklaring wat gister deur die Cape Leopard Trust uitgereik is.

Mnr. Quinton Martins van dié trust het by navraag gesê dié voorval sal navorsing oor dié skugter roofdiere in die groter Sederberg-gebied nadelig beïnvloed.

“Hierdie tragiese voorval illusteer die nadelige gevolge van onoordeelkundige vangmetodes. Enige wilde diere, waaronder bokke of ander roofdiere, kon in dié slagyster beland en gevrek het.”

Mnr. Johan van der Westhuizen, ’n lid van die trust se raad, sê dié voorval is die soort ding waaroor die trust geruime tyd reeds oor besorg is te midde van die wydverspreide gebruik van slagysters.

Martins sê hoewel die trust simpatie het met boere se veeverliese, en saamstem dat hulle ’n reg het om hul lewende hawe te beskerm, die gebruik van slagysters nie die gewenste oplossing hiervoor bied nie.

Die trust is gemoeid met navorsing om alternatiewe bestuursmetodes te ontwikkel om veeverliese weens roofdieraanvalle te voorkom. Die gebruik van Anatoliese herdershonde om kuddes op te pas, word onder meer aanbeveel.

Die trust het reeds ses luiperds met satellietsenders toegerus. Een van dié luiperds het nou in die slagyster beland.

Martins, wat besig is met sy doktorsgraad aan die Bristol-universtiteit in Brittanje, wil met sy navorsing onder meer vasstel presies hoeveel luiperds in die groter Sederberg-gebied hou. Hy is ook geïnteresseerd daarin hoe verskillende patrone van grondgebruik die bevolkingsdinamika van dié roofdiere beïnvloed.

Martins bestudeer die loopgebiede van die luiperd met behulp van kameras wat dié beskermde roofdiere binne hul onderskeie loopgebiede verewig.

Danksy dié foto’s word heelwat inligting oor hul bevolkingsdigtheid, gedragspatrone en verspreiding ontsluit. Luiperds (Panthera pardus) se kolle is uniek en dien dus as ’n betroubare “vingerafdruk” wat nuttig is vir veral dié soort navorsingstegniek.

Hoewel luiperds die wydste aangetref word van al die groot roofdiere in Suid-Afrika, is daar toenemend kommer oor dié groot katte se bewaringslot te midde van toenemende habitatverlies en -fragmentasie.

  • Slagysters word reeds dekades lank landwyd gebruik om van “probleemdiere” ontslae te raak. Hoewel 98 ander lande – waaronder Zimbabwe – reeds die gebruik van slagysters verbied het, was dit tot nou nog nie onwettig in Suid-Afrika nie. ’n Verbod hieroor is egter vervat in die nuwe regulasies op bedreigde en beskermde spesies wat onlangs uitgereik is.
  • Besoek capenature.org.za vir inligting oor die Sederberg-wildernisgebied en capeleopard.org.za vir besonderhede oor Martins se navorsing.
Die Burger  - JORISNA BONTHUYS

spacer

spacer