Rooikatte jag wyd in die Kaap

Published: 22 August 2017

Rooikatte jag nou wyd in die Kaap. Van die pikkewyne by Boulders in Simonstad tot die voëllewe in Kirstenbosch en Rietvlei, asook die muise van Koeberg en Tygerberg voel nou hul impak, skryf Eben Human.

Dit is byna verstommend hoe ’n roofdier soos die rooikat selfs in ’n onvriendelike stedelike omgewing kan oorleef.

Hierdie ratse jagters kan fyn hoor en 3 meter in die lug spring om ’n voël plat te trek.

’n Groot verskeidenheid prooi word deur die kat met die tosselore benut. Sommige inwoners van ’n gholflandgoed in Melkbosstrand beweer selfs dat ’n rooikat vermoedelik vir die verdwyning van baie van hul huiskatte verantwoordelik is.

Die nuus dat ’n rooikat in Julie verlede jaar 20 pikkewyne by Boulders doodgebyt het, was meer ernstig. Dit is slegte nuus vir natuurbewaarders en die plaaslike toerismebedryf.

Die rooikatte op Tafelberg geniet nou die aandag van Sanparke wat ook die belangrike bewaringsgebied by Boulders beheer, terwyl die Kaapse stadsraad en ander plaaslike besture terselfdertyd graag wil weet hoe die konflik tussen die roofdier en die mense beter bestuur kan word.

‘‘Navorsers was verras om te sien hoe baie hierdie roofdiere in spitsverkeer oor paaie probeer glip. Baie word deur motors doodgery en tot meer as 20 karkasse per jaar was vir verdere navorsing beskikbaar.

In die vorige twee jaar is met die Urban Caracal Project indringend na die rooikatte in die Skiereiland gekyk. Die Cape Leopard Trust was een van die borge terwyl Sanparke en die universiteite van Kaapstad en Kalifornië ook betrokke was.

Helen Turnbull van die Cape Leopard Trust sê in hierdie navorsing is ook gekyk na die genetiese samestelling van die rooikatte, asook hoe gifstowwe hulle kan raak.

Terselfdertyd het prof. Justin O’Riain van die Universiteit van Kaapstad, ’n leier in die studie van dieregedrag, in ’n TV-onderhoud gemaan dat ’n holistiese benadering nodig is en dat langtermynoplossings gevind moet word.

Danksy borge se ondersteuning kon altesame 22 nekbande voorsien word om die bewegings van die rooikatte te volg as deel van die Urban Caracal Project se navorsing. Dr. Laurel Serieys van die Universiteit van Kalifornië (Santa Cruz) het die navorsing gelei.

Waardevolle inligting oor die rooikatte se bewegings is versamel.

Die navorsers was verras om te sien hoe baie hierdie roofdiere in spitsverkeer oor die paaie probeer glip. Baie word doodgery en tot meer as 20 karkasse per jaar was vir verdere navorsing beskikbaar.

Een rooikat, wat Tyger gedoop is, het met sy halsband van die Tygerberg-reservaat tot verby Malmesbury en in die rigting van Atlantis en die Weskuspark getrek voordat sy laaste sein ontvang is.

Die rooikat wat Laduma gedoop is, het ook waardevolle inligting gelewer. Hy was egter sonder ’n halsband toe Kevin Shields hom onverwags in Kirstenbosch raakgeloop het.

“Ek het op ’n stil dag rustig verby die Silwerboombos in die botaniese tuin gestap toe ek iets soos ’n hond gewaar wat my nader,” vertel Shields van sy ervaring.

“Toe ek uiteindelik die tossels op sy ore sien, het ek opgewonde besef dit is ’n rooikat.” Shields sê hy was so geskok dat hy eers net gestop en gestaar het totdat hy skielik van sy kamera onthou het.

Die rooikat het rustig verby die stomgeslane fotograaf gestap en toe in die bosse verdwyn. Die navorsers kon egter Laduma herken aan sy gemerkte ore.

Die veteraan-fotograaf Frieda Prinsloo, wat al van Buite se natuurfoto-kompetisies gewen het, besoek op haar beurt byna daagliks die Rietvlei-reservaat in Milnerton. Groot was Frieda en haar man, Jan, se verbasing toe ’n rooikat onlangs na hulle aangestap kom terwyl hulle in een van die reservaat se voëlskuilings sit.

“Ek dink die eende het gebroei tussen die riete en die rooikat het vermoedelik daar toegeslaan. Ons aandag was eers getrek deur kraaie en seemeeue wat bo die riete draai,” het Jan oor die voorval gesê.

Nog iemand wat al interessante waarnemings van rooikatte gemaak het, is Henry de Lange wat met strikkameras op Tygerberg en in die Koeberg-reservaat al baie foto’s geneem het.

“Met my foto’s het ek gesien die rooikatte by Koeberg loop meer in die nag, en op Tygerberg is hulle meer aktief in die dag.” De Lange vermoed dat die rooikatte in Koeberg die Kaapse nagmuise jag en op Tygerberg streepmuise as prooi kan kies wat weer aktief in die dag is.

’n Ekoloog met wie gesels is, het gesê dat die rooikatte waarskynlik baie help om die tarentaal-getalle in Kirstenbosch in toom te hou.

Daar word nou gewag op die rooikat-projek se opsommende verslag wanneer Serieys binnekort van Amerika terugkeer. Dit kan help om nuwe strategieë vir rooikat-bewaring in stedelike gebiede in te stel.

Sien en lees meer oor rooikatte

  • Besoek urbancaracalproject.com om meer te lees oor die navorsing wat op die rooikatte gedoen Sien ook capeleopard.org.za.
  • Gaan na Henry de Lange se webtuiste cameratrap.mywild.co.za oor sy valstrikfotografie. Hy gee opleiding oor hoe om dié kameras te gebruik en data te bestuur.
  • Op Cliff en Suretha Dorse se webtuiste (biodiversityfocused.co. za) kan lesers al die foto’s sien wat hulle van muise, paddas, reptiele en ander natuurlewe geneem het.

Downloads

spacer

spacer