Warning

JUser: :_load: Unable to load user with ID: 62

Luiperd by Stellenbosch

Published: 16 May 2012

Daar was al gerugte van luiperdaktiwiteit in dié gebergtes, maar dis die eerste keer dat een opgemerk is, het luiperdkenners gister gesê. Dis ook, sover bekend, die eerste foto wat hier van ’n luiperd geneem is.

Die luiperd is verlede Woensdag in die wynlandgoed se semillon-wingerd afgeneem, nie ver van die herehuis nie, het Aidan Morton, landgoedbestuurder en wingerdboukundige van Tokara, gesê. Die kamera, wat op ’n paal in die wingerd staan, is twee jaar gelede opgerig.

“Die kamera het meestal krimpvarkies, dassies en bokkies afgeneem. Maar verlede week is ’n ratel sowel as die luiperd gekiek,” het Morton vertel.

Volgens Jeannie Hayward en Anita Meyer van die Cape Leopard Trust Boland-projek, is Simonsberg ’n onwaarskynlike plek om ’n luiperd te vind, aangesien dit deur plase omring word.

Hulle vermoed dat die luiperd moontlik die nageslag is van een van die dominante luiperds wat hulle in die Jonkershoek- en Groot Drakenstein-berge opgemerk het.

“Die luiperds wat die naaste aan die Simonsberg-gebied voorkom, is die volwasse mannetjie en wyfie Jack en Jill, wat albei al naby die Square Tower Peak (by Jonkershoek) afgeneem is,” het die navorsers gesê.

Meer as 50 volwasse en onvolwasse luiperds is sedert die aanvang van die Bolandprojek, wat in 2010 bekend gestel is, in die gebied van Bainskloof suidwaarts tot by Kogelberg waargeneem, lui ’n nuusbrief van die trust.

Die luiperdstudie beslaan ses CapeNature-reservate (Groot Winterhoek, Limietberg, Hottentots-Holland, Jonkershoek, Groenlandberg en Kogelberg), asook private reservate en plase in die Boland.

Die doel van die projek is om met behulp van sensorkameras te bepaal hoeveel luiperds nog in die Bolandse berge voorkom en om onder meer hul bewegingspatrone, eetgewoontes en habitatgebruik vas te stel. Die kameras word deur hitte en beweging geaktiveer.

Die Burger / Malani Venter

spacer

spacer