Warning

JUser: :_load: Unable to load user with ID: 62

Tweede luiperdwyfie in Sederberge dra nou sender-halsband

Published: 05 September 2007

’n Tweede luiperdwyfie is met ’n satellietsender in die Sederberge gemerk.

Dié wyfie, wat tans “F9” heet, is Saterdag in die Bushmanskloof-wildernisreservaat in ’n spesiale vanghok gevang. Sy is later op dieselfde plek vrygelaat om nie ander luiperds in die omgewing se loopgebiede te versteur nie.

Mnr. Quinton Martins van die Cape ­Leopard Trust sê dié sender sal baie help om meer oor die luiperds wat in dié streek hou, te leer.

Image
Só lyk die luiperdwyfie wat die naweek naby Clanwilliam in ’n spesiale vanghok gevang is. Dié roofdiere is alleenlopers, behalwe in paartyd of wanneer die kleintjies die wyfie vergesel op jagtogte. Foto: ANDREAS VAN DER MERWE

Dit is aansienlik moeiliker om ’n wyfieluiperd só te vang as ’n mannetjie, sê hy. Die wyfies, wie se loopgebied grootliks beinvloed word deur die beskikbaarheid van kosbronne, is heelwat versigtiger as die mannetjies.

Dr. André van der Merwe, ’n plaaslike veearts, het gehelp om dié luiperd te verdoof en die satelliet-halsband aan te heg. Danksy spesiale toerusting kon hy die wyfie se asemhaling én haar stresvlakke deurentyd monitor.

Die wyfie, wat na raming ongeveer drie jaar oud is en 18 kg weeg, is volgens Martins in ’n goeie toestand.

Altesame nege van die Sederberge se luiperds het reeds sulke satellietsenders gekry. Een van dié nege, ’n luiperd genaamd Colin, het vroeër vanjaar in ’n slagyster beland. GPS-koördinate van sy buurman, genaamd Trompie, toon sy loopgebied is gou deur laasgenoemde ingeneem.

Martins, wat tans besig is met doktorale studies aan die Britse Universiteit van Bristol, poog tans om ’n omvattende datastelsel oor die Sederberge se luiperd­bevolking saam te stel.

Hy wil onder meer vasstel hoeveel luiperds in dié bergagtige gebied hou en hoe verskillende patrone van grondgebruik die bevolkingsdinamika van dié skugter roofdiere beïnvloed. Hy hoop sy navorsing kan besluitnemers gemoeid met die bestuur van probleemroofdiere én grondeienaars help.

Sy navorsingsterrein strek vanaf Pakhuispas in die noorde tot Grootrivier in die suide en sluit die Cederberg-wildernis­gebied en die Matjiesrivier-natuurreservaat, wat deur CapeNature bestuur word, in.

Luiperds is territoriaal en patrolleer hulle loopgebied op ’n gereelde grondslag. In ’n volwasse mannetjie se loopgebied word ongeveer een tot drie wyfies aangetref.

As ’n luiperd om die een of ander rede vrek (soos in Colin se geval), neem ’n ander luiperd bloot dié dier se loopgebied in, verduidelik Martins.

’n Luiperd genaamd Johan wat onlangs tydelik van die radarskerm af verdwyn het (weens ’n foutiewe sender), het ’n loopgebied van 1 140 km². Dit is tot twintig keer groter as wat tot dusver gereken is.

Die wyfies se loopgebied is heelwat kleiner. Dit kom voor asof ’n wyfie wél van haar loopgebied vir een van haar spruite sal opgee, sê Martins. Dit geld egter net vir jong wyfies.

Martins se navorsing behels onder meer die gebruik van kameras wat dié roofdiere binne hul onderskeie loopgebiede afneem. Danksy dié foto’s word heelwat inligting oor hul bevolkingsdigtheid, gedragspatrone en verspreiding ontsluit.

Luiperds (Panthera pardus) se kolle is uniek en dien dus as ’n betroubare “vingerafdruk” wat nuttig is vir veral dié soort navorsingstegniek. Sulke kamera’s word eersdaags ook in die Swartberg-omgewing opgestel.

DNS-studies word voorts onderneem om meer oor die Sederberge se luiperds te leer. Volgens aanduidings verskil dié luiperds geneties van ander luiperdbevolkings.

Hoewel luiperds die wydste aangetref word van ál die groot roofdiere in Suid-Afrika, is daar toenemend kommer oor hul bewaringslot te midde van toenemende habitatverlies en -fragmentasie.

Die Burger - JORISNA BONTHUYS

spacer

spacer